KAASFABRIEK
NCD - CLOVER 1964 -’82
KAASFABRIEK
NCD - CLOVER 1964 -’82
Namate die landbou in dié gebied uitgebrei het, het die getal werksmense op die plase toegeneem. Die boer het melk vir eie gebruik, asook vir die werkers benodig. Vir 'n inkomste is melk afgeroom en per trein versend. In die veertig en vyftigerjare was dit 'n algemene gesig om koshuiskinders Maandagoggende op die stasie met roomkannetjies in die hand te sien..... en natuurlik Vrydagmiddag moes die leë kanne weer gehaal word. In die sestigerjare het die behoefte aan 'n melkfabriek al groter geword.
Die stasiegebou, en die geboutjie op linkerkant die koeler, waar die roomkanne geplaas is, voordat dit per spoor vervoer is.
< < < J.S. (Jan) van Zyl was die langs-dienende voorsitter van Blydskap Boerevereniging tot 1985.
Voorsitter 14 termyne
Vise-voorsitter 12 termyne
Bestuurslid 6 termyne
Voorsitter/Distriks Lanbou-unie 11 jaar
Grondbewarings-komitee 29 jaar
Direkteur NCD 11 jaar
Blydskap - Boerevereniging sou as mondstuk dien om in die bresse te tree vir die boere wat in die Wesselsbron N.G.-Kerkgemeente gewoon het.
'n Opname deur Blydskap Boerevereniging het aangetoon dat ± 3,000 gelling melk per dag gelewer kan word. 'n Afvaardiging met o.a. die LPR, Mnr. A.C. van Wyk, Mnre. Jan van Zyl en Fanie Ferreira het na 'n derde poging goedkeuring by die Suiwelraad gekry om 'n fabriek op te rig in Wesselsbron.
Die Wesselsbron-fabriek is amptelik geopen deur die Minister van Landbou, Mnr. Jim Fouché in Oktober 1966. Op dié spesifieke dag is 10,000 gelling melk ontvang! Dit is afgelewer met o.a. donkiekarretjies, fietse, bakkies . . .
Room is van die begin af na Frankfort se botterfabriek gestuur, maar met die daling in roompryse het al meer boere oorgeskakel na melk en daar het 'n tekort aan melkkanne ontstaan.
Mnr. Jim Fouché in die middel. > >
Die eerste Takbestuurder op Wesselsbron, Mnr. TOL PIETERSE was betrokke reeds van die ontwikklingsfase af. Hy en die tweede Takbestuurder,
Mnr. ANDRIES WESSELS was bekend as saggeaarde en bedaarde bestuurders.
TAKBESTUURDERS
1) - Tol Pieterse -1964 - Sept. 1967
2) - Andries Wessels - Okt. 1967- Des. 1968
3) - Nic Pieterse - Jan.1969 - April 1973
4) - Dries de Klerk - Feb.1973 - Des.1973
5) - Koos Nel - Des. 1973 - Nov. 1978
6) - Marius Nel - Des. 1978 - Jan. 1983
7) - Andrew Olivier - Jan. 1983 - Jan.1985
8) - Albie Schoeman -Feb. 1985 - Jul. 1986
9) - Andrew Olivier - Aug. 1986 - Jan. 1989
10) - Jasper van der Bijl - Feb.1989 - 1992
11) - Willie Pieters - 1993 - 1994
12) - Kassie Herbst - 1995 - 1998
13) - Gerhard Kriel - Julie, Aug.+Sept 1998
14) - Manie de Jager - Okt. 1998 - Mei 2009
Die derde Takbestuurder, Mnr. NIC PIETERSE was reeds van 1 Maart 1967 die rekenmeester by Wesselsbron, voordat hy in Januarie 1969 bevorder is tot bestuurder. Die personeel was dus deeglik bewus van sy haastige geaardheid en het 'n groot ontsag vir hom geopenbaar.
(3) Mnr. Nic Pieterse > >
Die vierde Takbestuurder, Mnr. DRIES DE KLERK was slegs vir 10 maande gedurende 1973 by die fabriek. Daar het weinig verander in sy kort termyn, maar Wesselsbron NCD het bly groei.
Op 20 Desember 1973 het die Nel-era op Wesselsbron aangebreek met die aanstelling van Mnr. KOOS NEL as Takbestuurder. (Hy is later deur sy broer, Marius opgevolg.)
Die agtien blanke personeellede het spoedig besef dat Mnr. Nel baie hoë vereistes stel. Hy was reguit, eerlik en op die man af. Die wiele het gedraai en die bande gegons soos wat veranderinge en groei plaasgevind het.
< < < (4) Mnr. Koos Nel
Met aanvang van Mnr. Koos Nel se termyn is daar ± 20 miljoen kilogram melk per dag ingeneem. Die melk is uit kanne in die staalbak gegooi waar dit geweeg is. Van die vervoerkontrakteurs was Mnre. Viljoen en At Meintjies.
Gedurende 1974 het die nat jare begin en dit het groot probleme vir die kontrakteurs besorg. Die vragmotors het vasgeval en met die vertragings het die fabriek en die kontrakteurs skade gelei met die melk wat suur geword het.
Die gedagte het ontstaan dat NCD sy eie vragmotors moet aankoop. Twee Toyota en vyf UG 780 Nissan vragmotors is aangekoop. Met die eie vervoer en vragmotors het NCD groot sukses behaal en goeie ondersteuning van die boere se kant geniet. Jan Taljaard word as eerste werktuigkundige aangestel en werk onder 'n afdak by die Ingenieurs werkswinkel.
Soos wat die diens verbeter het was daar in 1974 'n besonderse swaai vanaf roomproduksie na melkproduksie. Die yswaterdamme moes vergroot word en die melkontvangs aan die westekant het te klein geword. In 1975 is die nuwe ontvangs aan die suidekant voltooi en toegerus met twee Federickson kan-wasmasjiene. Daar word twee 70,000 liter melksilo's aangekoop.
Wesselsbron was gelukkig om die in die beginjare verteenwoordiging op die Suiwelraad te hê, by name, Mnr. J.S. van Zyl.
Wesselsbron se Veldbeampte, Sieg Müller het die sg. "Gentlemen's Agreement" verbreek deur verskaffers uit die Bloemhof en Klerksdorp area te werf. Die byvoordele met die kanne wat uitgeleen is aan die produsente was aanloklik. In die begin was dit die ou swaar staalkanne, maar later is die duurder, ligter aluminium kanne aangekoop. Op 'n stadium was daar 3,000 leenkanne in gebruik. Dit was 'n groot werk om jaarliks 'n opname van die kanne te maak.
Sieg Müller het deur die jare boek gehou en uiters waardevolle inligting verskaf van NCD. Hy het begin as Veldbeampte en na 32 jaar afgetree as Streekswinnings -bestuurder vir Reivilo, Kimberley, Wesselsbron en Bloemfontein. Hy word in die Eeufees blad uitgesonder as een van top agt veldbeamptes deur Dr. Hermann.
Aan die einde van 1975 het die groeiende vloot vragmotors vereis dat daar 'n werkswinkel gebou moes word. Dit is voltooi vir minder as R30,000.
Met die oorname van die Noord Kaap Suiwelkoöperasie het Wesselsbron se bedieningsgebied uitgebrei, maar die roetes was lank en die suurmelk persentasie hoog!
Gedurende 1976 is melktenks aangekoop, geïnstalleer en gratis verhuur aan boere in die Hertzogville, Boshoff en Christiana gebiede. Die gerief en voordele van 'n melktenk is gou deur die produsente en NCD besef en het 'n groot geskarrel in die suiwelbedryf veroorsaak. Meer tenks is geïnstalleer, maar nie soveel dat massa-roetes georganiseer kon word nie. Massa en kanne is op dieselfde voertuig vervoer.
Eskom-krag was nie oral beskikbaar nie en het die groei in tenks aan bande gelê. Dié tipe melktenks wat deur dieselmasjiene aangedryf is moes op spesiale sementblokke geïnstalleer word en dit het baie probleme meegebring.
Kleiner produsente het nog in kanne gelewer. Met die oorname van Milkrite kon hulle aan NCD 'n tenk met vyf kompartemente beskikbaar stel waarin vyf produsente se melk gelyktydig vervoer kon word. Lewering in melkkanne het afgeneem en die kanne moes weer ingevorder word.
Met die groei in melkvolumes moes die fabriek in intern ook groei en ontwikkel. In 1976 is die roumelksilo's aan die westekant direk teenoor die kaasvate geplaas. Die kaasvate is op 'n platvorm geplaas om in 'n dreineervat op 'n laer vlak te dreineer. Die drie kaasvate is aangevul met nog twee wat vanaf Lichtenburg oorgebring is. Die IPR potte, die roomafskeier en nuwe suurselkamer, het die nuwe kaasproduksie area en melkontvangs verbind. 'n Nuwe selfreinigende Westfalia roomafskeier kon die vet in die wei beter afskei. In die toevoerlyn voor die roomafskeier is 'n wrongelrif geplaas om meer wrongel uit die wei te verwyder. 'n Groot John Thompson stoomketel het die Kochran stoomketel vervang.
Die onderstaande foto’s is van die fabriek in Wesselsbron.
Daar is geen tyd verspil nie en in 1964 begin die bouery. In die beplanning word daar voorsiening gemaak om 5,000 gelling melk per dag te ontvang.
Peet Pelser links en regs Roelf Malherbe, hoof van die Vervoerafdeling.
Ammoniak kompressor vir verkoeling.
Die vier ou OST kaasvate.
‘n Kaasvat word gewas.
Gouda dreineervate.
Vir baie jare het MVSK (Midde Vrystaat Suiwel Koöperasie in Senekal) varsmelk uit hul eie gebied en ook hier waargeneem. Elke aansoek vir 'n lisensie deur NCD is teengestaan en dit het verskeie nadele ingehou. As gevolg hiervan was surplusmelk of melk wat deur die Suiwelraad afgewend is vir NCD verlore en na MVSK se fabrieke geneem. Die NCD lede wat varsmelk verkoop het, kon nie bonusse op die omset by MVSK ontvang nie.
Die hoë reënval gedurende die 1975-76 somer het ook vir MVSK probleme besorg. Hul varsmelk gebied het té groot geword en hul diens het verswak. Melk tekorte het aan die Rand begin voorkom en 'n beroep deur die Suiwelraad aan NCD het meegebring dat Wesselsbron 'n paar tenkers na Johannesburg gestuur het. Omdat melk nie gereeld gelaai is nie het die produsente begin skade ly. 'n Protesvergadering is gehou en NCD is versoek om die boere se melk te vervoer. Wesselsbron se inname was op daardie stadium ± 34 miljoen kilogram melk per jaar.
Daar is weer deur Dr. Marthinus Hermann, die Hoof Uitvoerende Beampte aansoek gedoen en na baie geskarrel het NCD 'n lisensie bekom. Mnr. Koos Nel het dadelik aan die werk gespring en vir Wesselsbron 'n 6,000 liter tenker aangeskaf.
Dit was die Veldbeampte, Sieg Müller se taak om die ou produsente terug te kry. In 'n kort tydjie is 51 produsente gewerf. Op 'n stadium was daar 108 varsmelk produsente in die Wesselsbron gebied.
Mnr. Koos Nel se aanvanklike 18 blanke personeellede het uitgebrei tot 56. Kantoorspasie het 'n groot probleem geword en nuwe kantore vir die administratiewe personeel is gebou deur Jan Heymans en Marius Greeff. In die begin van 1977 is die gebou betrek.
Geweldig baie melk is verwerk in Desember 1967 en alle kaas was in die trollies met die hand gecheddar. Hierdie handearbeid het meegebring dat die eerste staking in Wesselsbron se geskiedenis plaasgevind het op 15 Desember 1967. Al die swart personeel in die cheddar afdeling het uitgestap. Vanaf 16 Desember tot na Kersfees het skoolkinders en dames uit die administratiewe afdeling help kaas maak.
Die kaas word met die hand gesout en gevorm om oornag na die perse gaan.
Die 18kg cheddarkaasvorms regs agter.
Swart vroue is vir die eerste keer in Januarie 1977 aangestel in poste binne die fabriek. Kort daarna is begin met die meganisasie van die cheddar afdeling. Dit het personeel verminder en fisiese arbeid aansienlik verlig.
Gouda’s word uit die kodova plastiese vorms in die pekeldam geplaas.
Foto’s onder is van die waksproses en gewakste Goudakaas.
Die vermoë van die Goudakaas-aanleg was ongeveer 8 ton per dag. Dit was die eerste fabriek in Suid-Afrika wat gebruik gemaak het van plastiese Kodova vorms om Goudakaas te vervaardig.
Die Gouda dreineervat en die vormwasmasjien bo en onder die pekelmandjies.
Gedurende 1977 is die elektriese substasie vergroot. 'n Wei indamper is gedurende daardie jaar aangekoop wat in 'n krat op die perseel gelaat is vir toekomstige uitbreiding en indamping van wei.
Soos wat die fabriek gegroei het en die personeel toegeneem het, het die behoefte al dringender geword vir die diens van 'n onderhoudsvoorman. Org Nieuwoudt, 'n skrynwerker is aangestel.
Ernie Barrow, die tweede onderhoudsvoorman se eerste taak was om die NCD huur-huise van kaste te voorsien. Onder sy wakende oog tel o.a. die volgende: Wei-indamper gebou, 'n nuwe ablusieblok en die bestaande ablusieblok te omskep in kantore vir die ingenieurs, 'n lesingkamer, 'n nuwe C.I.P. gebou, kaste en tafels in al die kantore en lesingkamer.
By die Frikkie Cronjé Sportgronde het hy gedurende Mnr. Albie Schoeman se termyn (1985/86) die muurbalbane gebou en die eerste kroeg in die Buiteklub se houtwerk gedoen.
Die swak watertoevoer en -tekort na die fabriek wat produksie bemoeilik het was vir Mnr. Koos Nel so belangrik dat hy tot die Stadsraad toetree. Met die hulp van ander raadslede is in 1978 'n tweede reservoir vir Wesselsbron gebou anderkant die spoorlyn en is NCD se probleem grootliks verlig. ‘n Pomp om die druk te verhoog is deur NCD gefinansier.
WEI INDAMPER > > > >
voor: Piet Koen (Stadsklerk) Landman de Beer (Burgemeester) en Jan Nel
agter: Martiens Stander, Koos Nel, Koos van Zyl, Danie Bruwer,
Neïl Rossouw + Gert (Mof) Swiegers.
In die voorgrond is die 1978 reservoir en die drukpomp huisie.
Die NCD personeel was dankbaar dat Mnr. Koos Nel opgevolg is deur sy broer, Mnr. Marius Nel van Frankfort. Foto: Koos, links en Marius regs.
"Ons het die Nelle nou al geken en daar was nie groot
aanpassings probleme nie."
Mnr. MARIUS NEL se eerste kennismaking met Wesselsbron was tydens die personeel se jaarafsluitingsfunksie in die ou sinksaal van die Frikkie Cronjé, Desember 1978. Dit was snikheet binne en buite het 'n stofstorm gewoed!
< < < (5) Mnr. Marius Nel
Die weidam het baie probleme veroorsaak en 'n nuwe rioolsisteem en uitspuitapparaat is in gebruik geneem. Die nuwe gebou van die Wei-Indamper is voltooi en die indamper geïnsalleer.
Tydens sweiswerk aan die gebou, het vonke na die aangrensende gebou gewaai en 'n brand het in die Ingenieursstoor ontstaan waar ou dokumente en beskadigde gouda-kaasnette gestoor was. A.g.v. 'n tekort aan brandbestrydingtoerusting en opgeleide personeel het die gebou byna totaal afgebrand. 'n Opgeleide brandspan het tot stand gekom en 'n brandweerwa is gebou. Gereelde oefeninge het plaasgevind.
Kobus van Tonder en Dawie le Roux
< < < < AWEGAAR
Groei, diens, kwaliteit en spanwerk het floreer gedurende sy termyn van 4 jaar en 3 maande.
Hy word bevorder na NCD se Bemarkings - afdeling.
Mnr. Marius Nel het swaar geleef onder verplasings en bevorderings. Wel 'n bewys van hoe 'n goeie leermeester hy was! Sy eie bevorderings by NCD het gelei tot ‘n hoofbestuurspos van Vervoer.
Nog meer veranderings in die fabriek volg om aan die NOSA standaard te voldoen.
*Die cheddar dreineervate is vervang met 3 nuwe stulting dreineervate.
*Die dreineervat afdeling se geroeste plafonne is vervang.
*Afskortings tussen die dreineer- en kaasvate is opgerig.
*Die varsmelk oorpompstasie is verskuif na ontvangs.
*** ‘n Driester gradering word verwerf!
Die ou kaasvate word verwyder.
Dawie le Roux ontwerp 'n awegaar vanaf die dreineervate na die vulapparaat, die skaal en vandaar 'n vervoerband na die cheddarperse.
CLOVER >>
MELKDORP >
Ten einde reistyd tussen fabrieke te verkort, het NCD gebruik gemaak van gehuurde vliegtuie. In samewerking met Dr. Japie Pienaar is 'n vliegveld met 'n teer oppervlakte gebou. NCD se bydrae was ± R25,000.
Crack-'n-Jack kaas het onder Mnr. Marius Nel se leiding die lig gesien. Met 'n hoë vog en vet inhoud was die kaas baie gewild. Weens die bont voorkoms word dit Guernseykaas genoem. Baie kaasmakers het hul opleiding by Glen gekry.
Die huurgeld van die Handelsafdeling het aanhou styg. 'n Ou huis in Bredenkampstraat is aangekoop, gesloop en vervang met 'n pragtige gebou. Totale koste ± R80,000. {Naudé's se kantore tans.}
Waar het alles begin . . . .
1898 - 'n Groep melkboere ontmoet by Mooirivier en besluit
om 'n botterfabriek tot stand te bring.
1899 - Amptelike registrasie van Natal Creamery Bpk.
1902 - Varsmelk word gelewer in Pietermaritzburg teen
4 pennies per liter.
1903 - Varsmelk word daagliks gelewer in Johannesburg.
1906 - Natal Creamery Bpk. neem Johannesburg
Milk Supply Company Bpk. oor.
1908 - Heilbron Government Creamery word gestig.
1914 - Stigting van SACCA (S.A. Co-op Creamery Agency)
1915 - Die Mooirivierfabriek word toegerus om kaas te
vervaardig.
1916 - Heilbron Gov. Creamery raak insolvent en word
oorgeneem deur Natal Creamery.
1918 - Natal Creamery word in die OVS geregistreer.
Die dorp, Wesselsbron word gestig.
1932 - Natal Creamery Bpk. versprei melk landswyd in
32 sentrums.
1943 - 'n 100% koöperatiewe sisteem is goedgekeur en die
naam, Natal Creamery Bpk. verander na
National Co-operative Dairies - NCD.
1948 - Die Landbank word NCD se enigste finansier.
1951 - Die CLOVER ooreenkoms is gefinaliseer.
1960 - Ronde rooi posstempelseël as NCD se handelsmerk
geregistreer.
1962 - Die NCD (groen) logo word geregistreer.
1966 - NCD Wesselsbron se kaasfabriek open.
1970 - NCD koop ander CLOVER aandeelhouers uit en
registreer die CLOVER handelsmerk. Alle NCD
produkte is geleidelik onder die Clover-handelsmerk
bemark, o.a. - ELITE - PROTEA - ULTRAMEL -
BLAAUWKRANTZ, - CHIZ - SUPER M - YOGI SIP -
INKOMAZI - BUTRO - TROPIKA - FOX & CROW -
ROCKY RIDGE - TUSSERS, ens.
1975 - Milkrite word oorgeneem deur NCD en die nuwe
(rooi) logo word bekendgestel.
1984 - NCD amalgameer met Reivilo Suiwel Co-op.
1987 - NCD besit 50% van SACCA.
1987 - ZOETVLEI handelsmerk word geregistreer.
"Zoetvlei" is die plaas van David de Villiers waar
Wesselsbron in 1918 gestig is en in 1920 amptelik
tot dorp verklaar is.
1992 - NCD amalgameer met Midde-Vrystaat Suiwel Co-op.
1993 - NCD verkry 100% kontrole van SACCA.
1994 - CLOVER S.A. Bpk. vestig 'n maatskappy waarin
boere en personeel aandele kan bekom.
1995 - CLOVER neem Dairy Belle oor.
1996 - Herstruktuering van NCD - die herkenbare
klawerblaar CLOVER logo word beklemtoon. Groupe
Danone, Frankryk belê R403 miljoen in Clover en
koop R30 miljoen se aandele.
1997 - Purefresh, Natal en Prime Dairies, Botswana en
Homestead Dairies volg.
1999 - NCD / CLOVER vier 100 jaar in die bedryf.
2009 - 31 Mei 2009 sluit Clover se fabriek op Wesselsbron.
********************************************************************
1975 J.S. van Zyl, middel agter.
Tydens ‘n NCD funksie, aangebied deur Mnr. Marius Nel in die kerksaal op Wesselsbron is ‘n melkstal uit vervloë dae uitgestal.
v.l.n.r.
Mnr. Don Edmonds (Voorsitter van NCD 1977-1983)
Mnr. Marius Nel (Takbestuurder Wesselsbron (Des.’78 - Jan. ’83)
Mnr. Japie Dreyer (Uitvoerende hoof van NCD 1962 -1992)
Dr. Martinus Hermann (Bestuurshoof van NCD en
Voorsitter van Clover vanaf 1993 tot sy aftrede in 2001)
Senior personeel:
Produksiebestuurder-Dries Laubscher
Fabrieksbestuurder-Fanie Venter
Vervoerbestuurder-André Hugo
Handelsbestuurder-Org du Plessis
Takrekenmeester-Gerhard van Stryp
Snr. Veldbeampte- Sieg Müller
NCD se agtsitplek Cessna 421 “The Eagle.”
Die elektriese substasie wat krag aan die fabriek voorsien het ontplof. Langer as 'n week was die fabriek sonder die lewensbelangrike elektrisiteit. Mnr. Marius Nel het kragopwekkers van Heilbron en Lichtenburg gehuur waarmee die melk slegs koel gehou is. Die verwerking het by ander fabrieke plaasgevind. 'n Eie kragopwekker word aangekoop.
Mnr. Marius Nel het op twee Oukersaande buite die normale vereistes van 'n Takbestuurder opgetree. So was die stoomketel bedieners eenkeer nie in staat om hul werk te doen nie. Marius het sy hulp aangebied en as Jeremia Malgas se assistent moes hy die karretjie vol steenkool laai en na die ketel stoot. Die Kersoggend 6:00 is hy pikswart van diens af en Malgas nog swarter! Daardie nag het hy besef die taak kan vergemaklik word en is 'n trekker met 'n laaigraaf aangekoop. Die hele sisteem by die ketel is verander en slegs een persoon kon die werk doen.
'n Volgende keer het die dorp se krag afgegaan en die elektrisiën en Stadsklerk kon nie opgespoor word nie. Marius het sy vrou, Jeanette en hul drie seuntjies opgelaai en is saam met die Gesondheidsinspekteur na die sub-stasie. Daar het dit na brand geruik en Mnr. Nel se vlag het redelik halfmas gehang! Die twee mans het die skakeltuie een vir een uitgetrek. Na die rot, wat die kortsluiting veroorsaak het verwyder is kon almal weer rustig gaan slaap!
NCD huur 32 huise vir fabriekspersoneel en begin om 'n paar voorafvervaardige huise naby die stasie op te rig. Die noordelike uitbreiding staan tot vandag toe bekend as “Die Melkdorp” - dit laat wel sommige inwoners warm onder die kraag!
Op Wesselsbron is daar deur die jare hard gewerk, maar daar was ook tyd vir ontspanning. 'n Hoogtepunt in Mnr. Marius Nel se tyd was die rugbywedstryd tussen Heilbron en Wesselsbron se personeel. Die wedstryd is gereël deur Jan Nel, wat op daardie stadium werksaam was by die Bedryfskantoor te Heilbron. Die span van Heilbron was baie sterk, maar die Wesselsbronners het soos tiere geveg om die wedstryd in hul guns te beklink.
Mev. Chrissie Duncker begin as tikster by NCD op 2 Januarie 1979. Sy werk ook in
die Vervoerafdeling vir Mnr. André Hugo, voordat Mnr. Marius Nel haar aanstel as sy sekretaresse. Sy beklee die pos as sekretaresse vir al die opeenvolgende takbestuurders tot haar aftrede in Feb. 2003 na 24 jaar diens by Clover.
Drie Takbestuurders van Wesselsbron het tot op die hoogste sport gevorder in NCD.
Mnr. N.W. Pieterse (Jan.1969 - April 1973)
In 1967 begin Nic Pieterse se loopbaan by NCD as hoofklerk in die administratiewe afdeling by die nuwe kaasfabriek op Wesselsbron. Hy word bevorder tot Takbestuurder en klim die leer van sukses in NCD tot by Besturende Direkteur, Bemarking en kommersiële dienste. Hy onderskei hom as “Bemarker van Handelsmerke” vir Clover S.A. In 1996 belê Groupe Danone van Frankryk R403 miljoen in Clover en koop R30 miljoen se aandele. Tesame met Dr. M.N. Hermann speel Mnr. Nic Pieterse 'n groot rol tydens die onderhandelinge.
Mnr. J. Nel (Des.1973 - Nov.1978)
Koos Nel het by NCD begin as voorligtingsbeampte en word spoedig bevorder tot Takbestuurder van Wesselsbron se kaasfabriek. Hy onderskei hom as leier om die vervoerafdeling as entiteit uit te bou. Dié pos het hom die bynaam, Koos Spanner besorg. Hy was Besturende Direkteur, Tegnies.
Mnr. M. Nel ( Des.1978 - Jan.1983)
Marius Nel word vanaf Frankfort bevorder tot Takbestuurder van Wesselsbron. Hy volg in die voetspore van sy voorganger en broer in NCD se vervoerafdeling, om te eindig as die Hoofbestuurder van Vervoer.
Dr. Marthinus Hermann skryf as volg in die Eeufeesblad:
"Vir my is NCD oor die jare gekenmerk deur gehalte mense en 'n kultuur van toewyding, eerlikheid en entoesiasme."
"Koos en Marius Nel het 'n groot invloed op NCD gehad. Ons netjiese voertuigvloot dra hul stempels."
Voor: Mnr. Koos Nel, Dr. Martinus Hermann en Mnr. Nic Pieterse.
Agter: Mnr. I.L. Baxter, Mnr. R. Wesseloo en Mnr. B. Laubscher.
1983 tot 2009 vervolg > >
Jonglede Konferensie 1990